 |
 |
Die hart van 'n vrou |
- Desember 2009 |
- Artikel 1 |
| |
|
|
|
|
Die hart van ‘n vrou
Desember 2009 - Artikel 1
In Genesis 1:27 lees ons dat God die mens as sy verteenwoordiger hier op aarde geskep het. Hy het hulle spesifiek as man én vrou geskape.
As vrou is jy dus ‘n draer van ‘n spesifieke beeld van God. Jou vroulike hart is met die grootste waardigheid beklee. Dit weerspieël God se hart.
Ons vroulikheid vorm ‘n essensiële en diep dimensie van ons basiese menswees. As jy ooit enige onsekerheid beleef aangaande jou bestaansreg as vrou, het die tyd nou aangebreek om opnuut na God se droom vir jou te kyk. Daardie reis begin net op een plek en dit is in jou hart!
Met hart bedoel ek nie die emosionele sentrum van jou menswees – daar waar jy al jou moodswings ervaar nie – maar die Bybelse sin van die woord se betekenis – die sentrum van jou totale, geïntegreerde, heel en heilige menswees voor God.
‘n Ander manier om dit te stel is dat daardie reis met begeertes begin –goeie begeertes. God het verskillende begeertes in die hart van die vrou geplaas. John en Staci Eldredge leer ons dat elke vrou drie basiese dinge begeer: om bemin te word, om ‘n onmisbare rol in ‘n groot avontuur te speel en om mooi te wees. Dit is wat ‘n vrou se hart laat leef!
Word vir ‘n oomblik stil en kyk na die speletjies wat dogtertjies speel; onthou waarvan jy as kind gedroom het. Wat is dit wat ‘n vrou wil hê, wat is dit waarna sy smag? Dink aan jou eie hart en aan die harte van jou naby vriendinne?
Jy sal opnuut besef dat elke vrou - ook jý bemin wil word. Elkeen van ons wil die skoonheid wees wat deur die slegte ouens weggevoer is, en deur die held gered word. ‘n Weergawe hiervan het in ons almal se drome ‘n plek gehad. Is daar ‘n rolprent wat werklik ‘n treffer is onder dogtertjies, sonder ‘n aantreklike prins wat sy geliefde kom red?
As vrouens wat in die 21ste eeu leef word van ons verwag om sterk, onafhanklik en bekwaam te wees. Tog lê die begeerte om bemin te word in die hart van elke dogtertjie – en elke vrou. Dit is egter so ironies dat ons as ons eerlik is oor hierdie diep gevoelens, verleë en skaam is daaroor. Ons maak dit so maklik af as onbelangrik. Hierdie gevoelens verdwyn egter nie wanneer ons dit so verberg nie
Net voor ek my man Willem ontmoet het, is ek deur ‘n baie slegte verhouding van vier jaar. Ek was daardie tyd 32 jaar oud en my hart was diep verwond deur ‘n ongesonde verhouding. Willem het my hart opnuut laat leef, want hy het vir my hart geveg, my bemin en my laat besef dat ek die mooiste en die beste ding was wat ooit met hom gebeur het. Hy het vir my gedigte gelees, die pragtigste lelies aangedra en die mooiste dinge gesê. Hy was lief vir my, hy het my raakgesien, hy wou my vir altyd as deel van sy lewe hê!
Wanneer ons dogtertjies is, wil ons graag vir iemand kosbaar wees – veral vir ons pa’s. Wanneer ons ouer word verander die begeerte na ‘n verlange om die hof gemaak te word, om as ‘n vrou begeer te word. Ja, alhoewel ons hele menswees as vrou nie daarvan afhang of ‘n man ons die hof maak, of nie, … vorm dit ‘n onmisbare deel van ons elkeen se diepste begeertes!
Die meeste van ons as vroue se verslawings kom na vore wanneer ons voel ons word nie bemin nie, of as daar niemand is wat ons wil hê nie. Diep binne in ons wil elke vrou raakgesien word, gesog wees en begeer word.
In elke vrou se siel wil sy ten diepste ook deel wees van iets groots en goeds; iets wat alles vra wat sy kan bied; iets wat werd is om voor opofferings te maak. Daar is iets vurigs in ‘n vrou se hart. Kom haar kinders te na, haar man of haar beste vriendin en jy sal ‘n smakie van die vegter in haar kry. ‘n Vrou is ook ‘n vegter, ja jy het reg gelees. Maar, sy is gemaak om op ‘n uniek vroulike manier te veg. Eens op ‘n tyd, voor die hartseer, pyn en wonde van die lewe sy bes doen om dit dood te maak, wou die meeste jong vroue ‘n onmisbare en onvervangbare deel hê aan iets groots, iets belangrik. Voor die twyfel en aantygings posvat, voel die meeste klein dogtertjies dat hulle ‘n belangrike rol het om te speel; hulle glo onwrikbaar dat daar iets binne in hulle is wat iemand bitter nodig het. Daarom gee hulle graag skool of verpleeg verwondes in hulle kinderfantasie speletjies.
Die begeerte om deel van ‘n avontuur te wees het al vroeg in my lewe begin posvat. Ek was gek na aksiebelaaide rolprente en het ook in my keuse van beroep daardie begeerte uitgeleef. Ek was vir ‘n hele aantal jare van my jongvolwasse lewe deel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens waar ek by tye diens verrig het as ‘n Persoonsbeskermer van “Baie Belangrike Persone” (BBPs of VIPs). Ander kere was ek in beheer van Operasionele Aksies waar die beskerming van hierdie belangrike mense op my skouers gerus het. Al die spesiale opleiding wat ek ondergaan het, het my laat voel dat ek ‘n lewensbelangrike bydrae gehad het om te maak – ja, lewe en dood het letterlik van my optrede afgehang.
Vroue hou van allerlei avonture. Of dit die avontuur van absail, fietsry, staproetes, oorsese reise, ouerskap, ‘n romantiese ete saam met my man of ‘n nuwe sake-onderneming is, of om net dieper in die hart van God te delf - ons is gemaak om deel te wees van ‘n groot avontuur. Dié avonture wat ek hierbo noem, is ‘n persoonlike lys van dinge wat my hart lewendig maak in die huidige seisoen van my lewe!
Soms lyk die gedagte om die avontuur alleen te beleef vir ons aantreklik. Geen vereistes, geen behoeftes, geen pyn en geen teleurstellings nie. Ons dink so hieroor, omdat ons deur die eise van verhoudings seergekry het, moeg en oorlaai is van al die roetine verpligtinge wat vanweë verhoudings ontstaan. Ten spyte van al hierdie pyn en frustrasie weet elke vrou in haar diepste wese dat sy nie vir baie lank alleen wil wees nie. Om die waarheid te sê jy is as vrou gemaak om die lewe voluit saam met ander te beleef. Jy is ‘n verhoudingswese. Jy is geskep na die beeld van ‘n Drie-enige God wat in volmaakte liefde in verhouding met mekaar en ander leef. Jy wil ten diepste deel van ‘n avontuur met God en ander wees. Opwindend, nê!
Om mooi te wees is ook ‘n begeerte wat in elke vrou se hart leef, maak nie saak hoe oud sy is nie. Dit is ‘n tydlose verlange. Hou net ‘n klein dogtertjie dop. Hulle wil graag mooi aantrek soos ‘n skoenlapper, feetjie of ‘n prinses. Hulle is gek daarna om krone op hul koppies te sit, ma se grimering aan te sit en ouma se krale om te hang. Hulle wil in die rondte kan draai met ‘n valletjiesromp en vra onwillekeurig die vraag “Is ek mooi?”. Dit is ‘n vraag wat hul jong hartjies intuïtief en desperaat beantwoord wil hê.
Die verlange om mooi te wees het ook al menige vroue baie verdriet veroorsaak. Tallose trane is gestort en harte is gebreek in die soeke na- en stryd om skoonheid. Die begeerte binne in my hart om mooi te wees bring ook mee dat ek altyd probeer om ekstra kilo’s af te skud, fikser te word, gesonder te probeer eet en om myself uiterlik te versorg. Ek wil nog steeds in my en my man se verhaal sy beeldskone prinses wees. Ai tog, die ewig ontwykende ideaal van ewigdurende jeugdige skoonheid!
Baie van ons onderdruk die begeerte om die beeldskone prinses in die verhaal te wees. Ons het so seergekry in hierdie areas van ons lewens dat ons nie meer met die verlange na skoonheid kan identifiseer nie. Party van ons verag dit selfs, maar die begeerte bly steeds daar, ongeag hoe diep ons dit probeer verberg of hoe hard ons dit probeer onderdruk.
Hierdie begeerte om mooi te wees, is nie net ‘n verlange na uiterlike skoonheid nie. Nee, dit is baie meer. Dit is ‘n begeerte om bekoorlik te wees in jou diepste wese.
Aspoestertjie is mooi, maar sy is ook goed. Haar uiterlike skoonheid sou niks beteken het as dit nie vir die skoonheid in haar hart was nie.
Rut was ‘n pragtige, lieflike en sterk vrou, maar dit was haar onwrikbare moed, kwesbaarheid en geloof in God, wat vir Boas onweerstaanbaar aantreklik was. Ester was die mooiste vrou in die land, maar dit was haar dapperheid en haar slim, goeie hart wat maak dat die koning nie anders kan as om haar volksgenote te spaar nie.
Skoonheid gaan oor meer as mooi rokke, grimering en om die regte gewig te handhaaf. Elke vrou wil ‘n skoonheid vertoon wat die moeite werd is om te begeer, voor te veg, ‘n skoonheid wat die kern vorm van wie sy werklik is.
Ons wil skoonheid hê wat gesien kan word; skoonheid wat gevoel kan word; skoonheid wat ander kan beïnvloed; ‘n skoonheid wat net ons eie is om te onthul.
Hoe lyk die begeertes in jou hart? Beleef en ervaar jy hulle bewustelik en voluit, of het hierdie begeertes deur die jare in só ‘n mate vervaag, dat hulle nie eers meer vir jou bestaan nie? Is jy so vasgevang in jou verpligtinge, roetinetake, hartseer verlede en besige lewensstyl dat jy al jou hartsbegeertes begrawe het?
Jesus wil hierdie begeertes in jou hart kom terugplaas. Hy wil jou kom heelmaak daar waar jou hart sekere van sy ritmes verloor het. Hy wil hê jy moet jou liefde op Hom kom uitstort net soos Maria sy voete met kosbare nardusolie gesalf het. Hy wil in ‘n diep intieme verhouding met jou wees, met jou dans sodat Hy jou parfuum kan ruik, maar ook dat jy sy musiek kan hoor. Wanneer jy so naby aan Jesus, die Roos van Saron kom, dat jy sy lieflike geur kan ruik, smeer dit aan jou af en word ‘n skoonheid in jou onthul wat gesien en gevoel kan word.
‘n Skoonheid wat net joune is om te onthul!
Wees daarom versigtig met wat in jou hart omgaan want dit bepaal, soos Spreuke 4:23 waarsku, jou hele lewe!
Carin Lategan
(Indien U hierdie artikel vir iemand wil e-pos of uitdruk, is hy hier bo aan die bladsy as 'n pdf beskikbaar wat U kan aflaai en e-pos of uitdruk.)
|