 |
 |
Die hart van 'n man |
- Desember 2009 |
- Artikel 1 |
| |
|
|
|
|
Die hart van ‘n man
Desember 2009 - Artikel 1
Elke man was eens 'n seuntjie met drome, groot drome - om 'n held te wees, 'n krygsman, en om 'n gevaarlike, avontuurlustige lewe te lei. Maar wat word van daardie drome wanneer ons groter word? Ongelukkig skuif baie Christenmans hierdie drome en begeertes opsy weens hul siening dat Christenskap van hulle bloot 'gawe ouens' maak. In hierdie artikel word die uitnodiging aan mans gerig om hulle ware, manlike hart te ontdek. God het ons gemaak om passievol, lewenslustig en vry te kan leef.
Toe die film Saving Private Ryan begin draai het, het die bemarkers daarvan die volgende treffende sin gebruik in hulle veldtog: “The mission is a man”. Elkeen wie die fliek gesien het sal weet dat een soldaat, ‘n jong man met die van Ryan, tydens die D-Dag inval van die Tweede Wêreld Oorlog, deur ‘n hele gevegseenheid gesoek word. Toe Jesus mens geword het, het Hy ook ‘n spesifieke sending gehad en dit was “om te soek en te vind wie verlore was” (Lukas 19:10). Jesus vertel treffende verhale in Lukas 15 waar God uitgebeeld word as die Een wie voortdurend na ons soek. Hy gaan soek ook die een uit ‘n honderd wat verlore is. Hy is nie tevrede om te sê dat die een nie regtig saak maak, aangesien die nege-en-negentig veilig is nie. Hierdie sending, die soeke na een duur vandag nog voort, en dit sluit ook elkeen van ons as manne in.
Ons geslagtelikheid lê op die vlak van die siel – diep binne-in ons. In Bybelse taal kan ons van ons ‘hart’ praat. Dit verwys eenvoudig net na ons totale innerlike menswees voor God. Daar is ‘n manlike hart en ‘n vroulike hart, en elk weerspieël God se hart aan die wêreld op sy eie manier. Volgens John Eldredge leef daar in elke man se hart drie basiese begeertes: ‘n begeerte na ‘n stryd om te stry, ‘n avontuur om te beleef en ‘n skoonheid om te red. Dit is baie insiggewend om te verstaan wat die ooreenstemmende begeertes is, wat in elke vrou se binneste leef. Die drie begeertes in elke vrou se hart is: iemand wat vir haar baklei, ‘n avontuur om te deel en skoonheid om te onthul.
Wanneer ons kyk na die films waarna mans kyk, is dit opmerklik dat die tema van ‘n stryd om te stry in baie van hierdie films voorkom. Kyk na die speletjies wat klein seuntjies speel – gee vir die seun ‘n wapen- en hy voel hy is ‘n man. Ek weet dat dit tot baie hartseer in die wêreld lei, veral wanneer hierdie mans groot word en sommige van hulle hul mag misbruik. Tenspyte van die donker kant van manlike magsmisbruik, is dit belangrik dat elke man sal weet dat hy sterk is. In die era waar baie tradisionele lyne wat geslagsrolle in die verlede gedefinieer het, verdwyn, word manne groot in ‘n wêreld waar hulle nie meer rolmodelle van sterk mans het wat hulle invloed as mans gebruik om te veg vir ander nie. Baie van hulle word eerder groot met passiewe mans as rolmodelle, manne wie eerder agter die televisie se afstandbeheerder wegkruip as om werklik ten volle betrokke te wees in die mense om hulle se lewens. C.S Lewis het hierdie hartseer toedrag van sake as volg beskryf: “We make men without chests and expect of them virtue and enterprise …. We castrate and then bid the geldings to be fruitful.”
Dit is belangrik dat jy as man sal besef dat God aan jou manlike sterkte gee om tot die stryd toe te tree en te veg vir die harte van jou vrou, jou kinders en mense in jou gemeenskap. Jy het ‘n bepaalde plek op die gevegsfront wat jý alleen kan volstaan. Ek wil jou graag uitdaag om vandag by God aan te meld vir jou oproepinstruksies. God roep jou in die eerste plek om toe te tree tot ‘n stryd, ‘n geestelike oorlog.
In die tweede plek word jy as man genooi om in ‘n avontuur te leef. Avontuur is op die hart van elke man ingeëts. Avontuur verg iets van ons, dit toets ons. Al is ons bang vir die toets, wil ons terselfdertyd getoets word. Ons wil sien of ons ware mans is. Dit is egter belangrik dat ons as mans verby die blote beoefening van ontspanningsport en -avonture alleen beweeg, na avonture wat ons met ons naby mense (vrou, kinders en mede-gelowiges) deel. Dit moet avonture wees waarin God ‘n onmisbare rol speel. Dit is avonture waar ons as God se intieme bondgenote, medewerkers in sy koninkryk word. God nooi jou vandag as man uit om saam met Hom in ‘n avontuur te deel wat alle ander adrenalien verslawende avonture in die skadu sal stel, en na kinderspeletjies sal laat lyk.
In die laaste plek besef ons dat ‘n man het nie net ‘n stryd nodig nie; hy het iemand nodig vir wie hy kan stry. ‘n Man wil ook sy avontuur met iemand spesiaal wil deel. Dit is hier waar die skoonheid op die toneel verskyn. Niks inspireer ‘n man meer as ‘n pragtge vrou nie. Hy wil die skoonheid se held wees. Baie getroude mans het egter al in die moeilkheid beland omdat hulle voor versoekings van ander skoonhede geswig het. Hulle het nie, soos God dit vereis, vir die harte van hulle eie vrouens en die onthulling van hulle eie vroue se skoonheid geveg nie. Mag God aan jou nuwe oë van waardering vir die skoonheid in jou lewe gee en die wysheid om haar te help om werlik bekoorlik te wees.
Ek vertou dat hierdie perspektiewe op die basiese begeertes in jou manlike hart, jou op jou reis in die belewing van die avontuur van manwees sal help. Die enigste manier om werklik te weet wie jy as ‘n man is, is om jou hart terug te kry. God het ons harte gegee sodat ons daaruit voluit kan leef. Alles hang af van hoe ons ons harte hanteer.
Wees daarom versigtig met wat in jou hart omgaan want dit bepaal, soos Spreuke 4:23 waarsku, jou hele lewe!
Willem Lategan
(Indien U hierdie artikel vir iemand wil e-pos of uitdruk, is hy hier bo aan die bladsy as 'n pdf beskikbaar wat U kan aflaai en e-pos of uitdruk.)
|