 |
 |
Die God-gesentreerde gade |
- Desember 2009 |
- Artikel 1 |
| |
|
|
|
|
Die God-gesentreerde gade
Januarie 2010 - Artikel 1
Wanneer ‘n paartjie trou beloof aanmekaar, seëvier romanse en wil elke party glo dat die passie wat hul vir mekaar het, vir ewig gaan voortduur. Films, liefdesliedjies en hygromans versterk die gedagte dat romanse en passie genoeg is om ‘n huwelik te laat slaag. Romanse kan vergelyk word met ‘n tuimeltrein (roller coaster). Die adrenalien pomp vinnig en vurig aan die begin as die opwinding groot is, maar plat geleidelik af soos die spoed afneem en die nuwigheid van die avontuur vervaag.
Wanneer die vurigheid van romanse in die huwelik begin kwyn, reageer huwelikspaartjies verskillend. Sommige sal hul huweliksverhouding verbreek en groener weivelde gaan soek. Ander sal ‘n passiewe houding inneem en magspeletjies begin speel, omdat hulle voel dat die verhouding hulle nie bevredig, of nie opwindend genoeg is nie. Party sal hulle na allerhande hulpmiddels en tegnieke wend in ‘n verbete poging om beter te kommunikeer, konflik beter op te los, meer waardering vir mekaar te hê, dieselfde aspirasies te hê vir die opvoeding van hul kinders en harder te werk om die eertydse romanse weer te laat opvlam. Huwelikspaartjies reageer meestal op die simptome, sonder om op die oorsaak van dieper liggende probleme te fokus. Ons kan die volgende praktiese, maar tog baie handige vergelyking tref.
Wanneer jy ‘n luukse outomatiese voertuig bestuur waarvan die elektroniese beheerstelsel foutief is, sal jy die voertuig nie aangeskakel kry, selfs al is daar brandstof in die tenk of geen meganiese fout met die masjien nie. Dit gaan vir jou van geen waarde wees om jou voertuig se enjin te laat hersien by ‘n dienssentrum of om nog brandstof in te gooi nie. Die oplossing lê nie daarin om die simptome aan te spreek nie, maar in die vervanging van die elektroniese beheerstelsel. So dikwels doen ons dieselfde met ons huwelike; ons fokus slegs op die simptome, sonder om na die werklike dieperliggende probleem te kyk.
Ek glo die elektroniese beheerstelsel in hierdie analogie kan vergelyk word met die geestelike motivering waarmee jy jou huwelik aanpak. Dit kom alles neer op een eenvoudige vraag. Is jy ‘n God-gesentreerde gade of is jy ‘n selfgesentreerde gade? ‘n Self-gesentreerde vrou sal vriendelik optree teenoor haar man vir solank as wat hy haar vriendelik en goed behandel. Sy is toegangklik solank haar man aan haar aandag gee. ‘n Self-gesentreerde eggenoot daarteenoor sal uit sy pad gaan en moeite doen vir sy vrou, solank as wat sy met alles saamstem en toenadering soek. Hy sal haar bemin solank hy voel die beloning is vir hom die moeite werd.
Die Bybel leer ons in 2 Korintiërs 7:1 by monde van Paulus iets totaal anders. Dit lees as volg:
“Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.”
Paulus vestig ons aandag in hierdie gedeelte daarop dat ons altyd heiligmaking moet nastreef om net een rede, uit eerbied vir God. God is heilig en waardig, daarom word ons opgeroep om ‘n lewe van heiligmaking na te streef en om lief te hê soos God lief het. ‘n God-gesentreerde gade word gemotiveer deur sy of haar verbintenis teenoor God, eerder as die reaksie (goed of sleg) wat van ‘n gade ervaar word.
Self-gesentreerde gades voer allerhande verskonings aan wat kan regverdig waarom hul nie meer vir hul huweliksmaats lief is nie. Gewoonlik word daar baie klem gelê op tekortkominge en sondes van die ander party. As dit ‘n geldige verskoning was, kon elkeen van ons ons daarop beroep het om nie lief te hê nie - want ons is almal met mense getroud wat sonde doen. Die realiteit is egter dat nie net ons huweliksmaats sondaars is, maar ons ook! Jesus se verhaal oor die splinter en die balk in die oog is aan ons almal bekend.
Mense verkeer baie kere onder die wanpersepsie dat dit maklik is om getroud te wees met mans of vrouens wat in die bediening staan. Vir een of ander rede dink hulle dat hierdie mense heiliger is en dat hulle nie dieselfde versoekings as gewone mense ervaar nie. Ek kan jul verseker dat daar baie aanslae op geestelike leiers se huwelike is en dat, alhoewel hulle huwelike as rolmodelle behoort te dien, dit nooit volmaak is nie.
Wat belangrik is, is dat ek nie geroep is om my man lief te hê omdat hy heiliger is as ander mans nie (alhoewel ek baie dankbaar is dat my man Jesus met ‘n passie liefhet en ‘n man van integriteit is). Ek is ook nie geroep om my man lief te hê omdat hy my gelukkig maak en my goed laat voel nie (alhoewel ek dankbaar is vir al die goeie dinge wat ons saam doen en dat hy altyd my potensiaal raaksien). Ek is ook nie geroep om hom lief te hê omdat hy sekere gevoelens binne my aanwakker nie (alhoewel net hy die kuns daarvan bemeester het). Ek word geroep om hom lief te hê uit eerbied vir God. Enige ander rede is nie van God afkomstig nie.
As ‘n huweliksmaat hom of haar dan moet reinig van alles wat die liggaam verontreinig, dan is daar geen plek vir jaloesie, bitterheid of selfgesentreerdheid nie. My lewe moet eerder gekenmerk word deur goedheid, liefde, geloof, hoop en selfbeheersing. Geen sonde wat teenoor my gepleeg word – ook nie die sonde van my huweliksmaat – gee my die reg om sonde te doen nie. Daar is net een saak wat as motivering moet dien om vir ons huweliksmaats lief te wees, en dit is die eer van God.
Dit wat my huweliksmaat doen of sê of nie doen nie, is dus irrelevant. Elke besluit wat ek maak, elke woord wat ek uiter, elke gedagte wat ek koester en elke optrede moet voortvloei uit een motivering: uit eerbied vir God. Beskou jy jou huwelik as God-gesentreerd? Is jy ‘n God-gesentreerde gade?
Carin Lategan
(Indien U hierdie artikel vir iemand wil e-pos of uitdruk, is hy hier bo aan die bladsy as 'n pdf beskikbaar wat U kan aflaai en e-pos of uitdruk.)
|